Daar is iets omtrent Johannes Chrisostomus en die woorde wat hy gespreek het, wat sy wêreld verlig het.
Hy was 'n belangrike leier van die vroeë kerk. Hy was so bekend vir sy prediking en openbare redevoering dat hy die bynaam van "Goue Mond" gekry het. Hy het sy oortuigings duidelik verwoord en in die geloof opgetree. Hy het die uitspattige sosiale byeenkomste van sy voorgangers verwerp. Dit het vir hom die argwaan van die rykes in Konstantinopel op die hals gehaal.
Hy het hom uitgespreek oor die feit dat baie invloedryke Christene hulle min aan die lot van armes gesteur het.
"Dis malligheid om julle kaste vol klere te maak, terwyl ander mense halfkaal en bibberend van die koue hulleself skaars regop kan hou."
Wanneer hy die waarheid vertel het, het dit vir Johannes min geskeel of jy ryk of arm was. Selfs die keiserin het onder sy tong deurgeloop. Dit het uiteindelik tot sy verbanning en dood gelei.