God gee in sy Woord duidelike opdragte oor hoe en met watter doel sy skepping gebruik moet word. Hierdie handboek plaas ʼn deel van die skepping en die mens se bedrywighede in die lig van wat die Bybel ons daaroor leer.
Die volgende uitgangspunte t.o.v. natuurwetenskap word aan die leerlinge geleer sodat hulle uiteindelik in staat is om die drie kernvrae te kan beantwoord:
- Leer om te onderskei tussen die Skepper en die skepping. Die grens tussen die Skepper en die skepping is die natuurwette wat God daargestel het.
- Christelike natuurwetenskappe onderskei tussen die materie, die planteryk, die diereryk en die mensdom. Die skepping is as ʼn eenheid met verskeidenheid geskep. Die mens is na die beeld van God geskep en is nie ʼn dier nie.
- Christelike filosofie ken geen teenstrydigheid tussen geloof en wetenskap nie. Ware geloof sal nie ware wetenskap teëspreek nie en omgekeerd.
- As gelowige wetenskaplikes moet ons, ons voorveronderstellings aan die Woord van God toets. Ons resultate moet in ooreenstemming wees met die riglyne wat ons in die Bybel vind.
Die volgende uitgangspunte t.o.v. tegnologie word aan die leerlinge geleer:
- Die mens moet sorg dat God se skepping bewaar word en dat hy daardeur God en sy medemens dien.
- Leerlinge leer dat tegnologie nie bloot menslike uitvindsels is nie, maar ʼn inherente deel van die skepping vorm.
- Daarom leer hulle wanneer moontlikhede ontgin word, dat rekening gehou word met ordelikheid, balans en interafhanklikheid van die skepping, sodat dit nie versteur of misbruik word nie.
- Die mens se gesindheid en ingesteldheid bepaal wat hy doen. Tegnologie kan gebruik word om die evangelie te versprei, maar ook om afgodery te bedryf. Tegnologie moet altyd diensbaar wees aan die mens se eerste roeping naamlik om God en sy naaste te dien.